HOE OM DIE PROGRAM OPTIMAAL TE BENUT

STORIE

Stories is ‘n belangrike middel om jou kind se ouditiewe geheue (luistervaardigheid) te ontwikkel en te verbeter. Daarom is dit belangrik om die storie lewendig en interessant te hou!

Lees die storie vlugtig vir jouself deur sodat jy ‘n idee het van wat gaan volg. Gebruik verskillende stemme om verskillende karakters uit te beeld. Voeg geluide by om te dramatiseer (gloegh,gloegh vir drink, ens). Jy kan selfs dat jou kind ‘n karakter kies wat hy wil wees, en beeld die storie uit as ‘n drama. Maar bowenal, maak seker jy en jou kind geniet die storie!!!
Vir jonger kinders moet die storie dalk aangepas word. As dit te lank raak, kan hy of sy dalk belangstelling verloor. Hou die konsentrasie dop.

Laastens, onthou om vrae te vra. Maak ‘n speletjie daarvan en leer sodoende jou kind om werklik te luister.

TAAL

Aan die einde van elke storie is daar ‘n kort taaloefening. Taalontwikkeling is die grondslag van intellektuele ontwikkeling. Dit beïnvloed die kind se interaksie met almal om hom. ‘n Kind se selfbeeld, leergierigheid, sosiale- en emosionele ontwikkeling rus baie swaar op sy taalontwikkeling. Die doel is om jou kind se woordeskat uit te brei. Help jou kind die woorde onthou deur herhaling! In die motor, aan tafel of in sy bed. Maak seker die leerproses bly pret! Onthou om altyd self die regte woorde te gebruik. ‘n Kind sê dit wat hy hoor. As jou kind iets verkeerd uitspreek, is dit nie ‘n probleem nie, sorg net dat hy wel by jou die regte uitspraak hoor.

FISIESE ONTWIKKELING

Die fisiese oefeninge help met die groot motoriese ontwikkeling. Dit vorm die basis van alle leer-ontwikkeling. Kinders moet so veel as moontlik hardloop, spring, huppel en klim. Groot motoriese ontwikkeling leer jou kind om effektiewe gebruik van sy hele liggaam te hê. Lei jou kind in die aktiwiteit, en laat hom ook toe om hom uit te druk deur sy liggam te gebruik. Doen gerus die bewegings saam met jou kind! Wees kreatief en doen die bewegings op die maat van musiek Dit is ook ‘n goeie idee om ‘n fluitjie te blaas wanneer die aktiwiteit moet begin en eindig. Moenie vergeet om jou kind ook ‘n beurt te gee om die fluitjie te blaas nie! Soms is van die oefeninge meer fyn motories van aard en dit is natuurlik weer uitstekend vir kleinspier-beheer.

KUNS

Kuns beteken kreatiewe pret. Verseker dat jou kind se kuns-omgewing so ver as moontlik “mors-bestand” is (gooi koerante op die vloer en trek vir die “kunstenaar” ‘n voorskoot aan). Motiveer jou kind om sy eie idees te gebruik. ONTHOU: Daar is geen regte of verkeerde manier in kuns nie! Dit is belangrik om te besef dat dit vir die kind gaan oor die proses en nie die eindproduk nie. Moenie inmeng met die proses om die eindproduk “reg” te kry nie.

Maak ‘n ophef van die kunswerk as die kleinding klaar is en spog gerus met die meesterstuk deur dit vir ‘n paar dae op die yskas of teen ‘n muur te plak. (Dis ook ‘n goeie idee om so nou en dan vir Ouma ‘n kunswerk in die pos te gooi).

NS. Begin nou reeds jou kind motiveer om sy potlood/kwas in die regte greep vas te hou!

WISKUNDE

Help jou kind om van kleins af wiskunde pret te maak. Tel, tel, tel! Die trappe wat jul opklim, sy tone, vingers en ertjies!!! Maak tel deel van jou daaglikse gesprek. Moet nooit druk op jou kind plaas nie - pret is die sleutel. Wiskunde is ook nie net syfers nie. Gesels met jou kind oor vorms, volume (is die glas vol of leeg?), volgorde, dinge wat bymekaar pas en enigiets van hierdie aard. Wiskunde hoef nie gevrees te word nie en as ‘n kind sommer vroeg-vroeg selfvertroue kry daarmee kan dit vorentoe baie help.

WETENSKAP

Die doel van wetenskap is om jou kind bekend te stel aan ‘n splinternuwe wêreld wat nie altyd in ons daaglikse bestaan met die blote oog gesien kan word nie. Verduidelik in eenvoudige terme aan jou kind die proses wat in die eksperiment plaasvind, en kweek so ‘n leergierige kind! Soms is die wetenskap net interessante inligting, byvoorbeeld oor die dier van die week. Gesels lekker daaroor en vergelyk die kenmerke met jul eie troeteldiere om dit meer werklik te maak.

PERSEPSIE

In persepsie word al vyf die sintuie vir waarneming gebruik. Jou kind word bewus van verskillende kleure, vorms, klanke, reuke en smake. Hy sal begin verstaan dat selfs al is ‘n driehoek groot, klein, blou of rooi, dit steeds ‘n driehoek is! ‘n Voorwerp kan op, onder of langs die tafel wees. Kos proe soet, suur, sout of bitter ens. Deur met jou kind op beskrywende maniere te praat, (bv. kyk die groot rooi appel, i.p.v. kyk die appel) maak jy die ondervindings deel van jou kind se daaglikse lewe. Gesels ook met jou kind oor wat jy deur die dag hoor (bv. hoor hoe blaf die hond buite).

Die groot geheim is om met jou kind te PRAAT!! Gesels die hele tyd oor alles wat julle die dag beleef en waargeneem het. Betrek hulle by jou lewe en word deel van hul wêreld.

 

   
     
© Kopiereg inAfrikaans.com. Alle regte voorbehou.
Webtuiste deur QuickSolve
inAfrikaans.com Dokumentasie
Terme & Kondisies - Vertroulikheidsbeleid
Hoe om aan te sluit?